Een ding is nou maar seker- ons Border Kollies is veelsydig. Hoeveel keer was hulle nie al in ons gesin se waarskuwende en "optredende" waghonde nie! Ja, en hoe dikwels lees ons nie van gevalle waar hulle ook selfs lewensredders was nie.
Een dag byvoorbeeld, het my dogter Esme, en 'n vriendin 'n entjie gaan stap; albei het hul eersteling verwag en soos gewoonlik het Esme haar getroue taan en wit Rex vir die wandeling saamgeneem, min wetende dat hy 'n rukkie later tot hul beskermer sou wees. al geselsend stap die twee jong dames aan toe hul skielik 'n woedende gebrul hoor - 'n yslike Rottweiler storm op hulle af. Die erf se hek was wa-wyd oop en 'ta' het dus sy kans waargeneem om iets of iemand met mening by te dam.
Asvaal geskrik maar nogtans, by haar volle positiewe' , besluit Esme om Rex se leiband te los en te kyk wat gebeur, want beslis moes daar opgetree word, wat die gevolge ookal moes wees! Rex het stil vinnig tussen Esme en die Rottweiller inbeweeg en gewag. Toe die 'vyand' by hulle kom het Rex vir 'n paar oomblikke doodstil gestaan en toe blitsvinnig onder die Rottweiller wat met skuimende bek daar rondgetrippel het, ingeklim- somar so skuinsweg onder hom in, net so goed asof hy 'n halstarrige bees of skaap wat nie wil luister nie, "bewerk".
Dit was toe die "grand finale" want ta Rottweiller het gou besluit 'dit is nou genoeg' en voordat hy nog meer gaan kry, sal hy liewers waai - en daar vat hy toe maar huis-toe, stert tussen die bene (so 'n kortetjie). Ja-nee, Border Kollie se kind weet hoe om te werk met die gal van hetsy moeilike skape en gevaarlike 'kollegas'!
'n Vriendin van Esme se man, 'n Oostenrykse immigrant, kon net nie begryp waarom sy vrou so 'n vurige liefhebber juis van die Border Kollies is nie, en was maar ietwat afsydig teenoor haar geliefde Rolfie. Eendag gaan hy toe so 'n bietjie die veld in en draf vir oefening, en Rolfie draf saam. Toe hy weer gewaar, het hy al drawwend so te se tussen 'n klompie beeste wat daar wei, beland. Een bees het glad nie van hierdie indringer gehou nie en besluit net daar en dan om hom agterna te sit en te "verwyder" van hulle "wei area" en daar laat hy toe vir Herbert baie beslis "draf" al om 'n groterige doringboom! Toe Herbert 'n "gaping" kry, laat hy nie op hom wag nie en klim blitsvinnig in die boom vir 'n blaaskans. Van bo bekyk hy toe die wereld onder hom waar Rolfie die lastige bees aanmekaar wegkeer en wegkeer soos met 'n afgedwaalde skaap gedoen word totdat hy die kalant heetemal weggedryf het van sy baas se boomskuiling tot by sy eie trop en kon Herbert met 'n geruste hart sy skuiling verlaat en weer huis-toe draf! Daarna het hy beslis meer aandag aan sy vrou se Border Kollies gegee en hulle ook met agting bejeen- want slim en veelsydig is hulle beslis!
En wie se 'n skaap is nie ook slim nie! Eendag weer het Esme en 'n vriendin met vleismerinos daar in die Oos-Transvaal gewerk en terselfdetyd 'n jong tefie, Jess, verder afgerig. Rex, ons ou grote, het saam gewerk om haar goed touwys te maak. Ai, maar sulke vleismerinos is maar agressief! Daardie dag werk hulle toe met 'n nuwe troppie wat nie aan honde gewoond was nie!
Toe die twee dameshanterders die skape nader, met die honde 'n hele entjie wyd ver weg van hulle af, wat sal hulle sien- 'n stuk of ses, sewe gaan val plat op hul sye, bene in die lug en "speel dood"! Slim ne! Gedink hulle kon op hierdie manier vrydpring dat daar met hulle gewerk word! En, om alles te kroon, toe Esme nog verder wou aanstap staar daar een ou ooi heer vas aan, en sak toe stadig met die kop en lyf, al laer en laerin die grasruigte, kompleet soos 'n volstruis wat met sy kop in die sand wegsteek en hoop hy word nie raakgesien nie! Esme se vir haar maat- "sou sy nou sowaar dink ons sien haar nie?"